Merise Afrikaans - Augustus 2014
Afrikaans | 40 pages | True PDF | 5.5 MB
Afrikaans | 40 pages | True PDF | 5.5 MB
En so bevind ons ons op die vooraand van Kersfees en op die vooraand van ‘n volgende jaar. In Perth sit swerms galahs (lid van die kaketoe-familie) bedags in die bome en vir aandete sak hulle neer op lowergroen grasperke sodat die pienk en grys spikkels ‘n groot mat vorm.
Oral in die stad spuit fonteine baldadig die lug in en jong meisies met lang bene stap in die kortste sjoebroekies rond en spog met naeltjieringe en tatoeëermerke op denkbare en ondenkbare plekke. Daar word ure lank gekuier oor ‘n flat white of ‘n long black by ‘n tafeltjie of twee met stoele wat staangemaak is op al wat sypaadjie is.
Vergete is die angstige gejaag van die afgelope jaar wat soos elke vorige jaar ‘n hoogtepunt bereik in die laaste geskarrel voordat families en vriende uiteindelik rustig om ‘n Kersboom bymekaarkom om ‘n salige samesyn te deel.
As ek een belangrike ding kan uitsonder wat ek die afgelope jaar geleer het, is dit dat ons nooit goeie gesondheid as vanselfsprekend mag aanvaar nie. In ons volgepakte, gejaagde lewens gebeur dit so dikwels dat ons nie genoeg tyd afstaan om weer aan te sterk as ons siek was nie. Ons gaan ‘n kundige eers sien wanneer ons nie langer kán voortgaan nie en is daarna woerts-warts weer terug in die tuig. Maar eendag, sommer uit die bloute, haal die werklikheid ons in en is die herstelproses nie meer so vanselfsprekend of so maklik nie. Dis dán wanneer jy gedwing word om te dink aan ‘n lewenstylverandering. Nie dat alle gesondheidsprobleme toegeskryf kan word aan ‘n ongesonde leefstyl nie, maar met ‘n gesonde leefstyl het ons die beste moontlike kans op vinnige herstel.
En dis juis dáárom dat ek jou en jou gesin ‘n geseënde Kersgety en ‘n voorspoedige en veral gesonde Nuwejaar toewens.
Goed gaan tot ‘n volgende keer!